By Denise Lloyd
Mej Garden Route & Klein Karoo
Die papie ontpop!
Dis die klein dingetjies in die lewe wat tel en wat die lewe meer draagbaar maak. En wat ‘n bonus as die papie nog in ‘n pragtige skoenlapper ook ontpop!
Die papie wat in ‘n skoenlapper verander het. Aletta Fourie nadat haar hare versorg en sy pragtig gegrimeer is
Me Aletta Fourie (33), afkomstig van Wilderness, maar tans woonagtig in Mosselbaai, stem honderd persent hiermee saam. Toe sy so twee maande gelede op Mosselbaai aangekom het om by CEF (Creating Effective Families) haar menswaardigheid te herwin, het sy nooit gedink sy gaan ook die geleentheid kry om vir een dag soos ‘n koninklike behandel te word nie.
Aletta Fourie van CEF is gekies om “make-over” van Mej Garden Route & Klein Karoo-projek te ervaar
Aletta is die laaste gelukkige vrou van CEF wat gekies is om ‘n ‘make-over’ as deel van die Mej Garden Route & Klein Karoo-projek te ervaar. Tydens die projek is vier vroue van elk van die vier Veilige Huise in die Suid-Kaap wat deur die proujek ondersteun word, gekies en vir ‘n dag lank soos koninklikes behandel. Die vier Veilige Huise is CEF van Mosselbaai, Malibongwe van Oudtshoorn, Phambili van George en Women Who Care van Knynsna.
Winkels by Langeberg Mall trakteer deelnemers van Mosselbaai en Oudtshoorn
Elk van die vier Huise kies ‘n finalis en dié vier vroue word volgende week deur ‘n paneel, waarvan Natasha Sutherland een van die beoordelaars is, ontmoet en die wenner word tydens die gala-aand op Saterdag 25 September aangekondig. Benewens die R1 000 kontant wat deur die Casino aan die wenner geskenk word, is daar ook produkpryse wat die wenner ontvang. Elke finalis wat tydens die projek mooigemaak is, het ook produkpryse ontvang en is op heerlike middagetes getrakteer. Die deelnemers van Mosselbaai en Oudtshoorn is deur die winkels by Langeberg Mall getrakteer.
Lucerna Haarsalon op Mosselbaai versorg Aletta se hare
Aletta het beslis ervaar dat ‘n goed versorgde vrou ‘n sierraad is. Sy het behoorlik geblom nadat haar pragtige hare deur die stilis by Lucerna Haarsalon op Mosselbaai versorg is. Hierna is haar grimering deur Thandi by Edgars by Langeberg Mall gedoen en toe het sy die winkels ingevaar om haar koopbewyse vir klere te gebruik. Volgens Adri-Ann Seconds van die Casino wat vir Aletta vergesel het, het hulle behoorlik van een winkel na ‘n ander geloop op soek na die beste kopies. “Aletta het haar bewyse baie slim en oordeelkundig gebruik en het pragtig en ontspanne gelyk na haar pamperlang-sessie” het Adri-Ann vertel.
Aletta het onlangs ‘n drie week lange kursus in ouerskap voltooi en konsentreer nou eers op die helingsproses vir haarself en haar drie dogters. Sy is nog nie seker wat sy gaan doen wanneer sy die Veilige Huis verlaat nie, maar sy is positief ingestel op die toekoms en net vol lof vir die ondersteuning wat CEF en sy perosneel haar bied.
“Sê ook vir die lesers hulle moet hierdie projek ondersteun deur kaartjies te koop. Hulle sal nooit besef wat dit vir ‘n vrou doen om speisaal te voel en ook so behandel te word nie” het sy gesê en bygevoeg dat sy hoop dat die publiek die harde werk agter die skerms sal raaksien en besef dat hulle ook deel kan word met hul bydraes.
Kaartjies vir gala-aand op 25 September teen R150 elk by Computicket en die casino te koop.
Kaartjies vir die gala-aand wat op 25 September by Pinnacle Point Strand- en Gholflandgoed plaasvind, is teen R150 elk by Computicket of by die Casino beskikbaar. Computicket is by die meeste Checkers beskikbaar
Mej Garden Route & Klein Karoo is a post from: Denise Lloyd


